Homepage
About Ud
About Ud
Photo Gallery
fasfacts jingle
FASfacts Brochure
Brain Damage
Downloads
News and Articles
FAS Information
FAS Facts
FAS Links
Afrikaans
Donations
Contact Us
Our donors
books
dvd
Copyright
feet

news

Bekende predikant groet sy gemeente

EEN van Worcester se bekendste predikante, ds. Jan Ungerer van die NG Moedergemeente op Worcester, lewer Sondag sy afskeidsboodskap.

#Ds. Ungerer tree uit die bediening om voltyds in diens van die organisasie FASfacts te wees. Hy sal sy demissie van die Ring van Worcester ontvang nadat hy 35 jaar in die bediening was – 24 hiervan op Worcester.

Hy sal hier aanbly en as hoof van geloofsgroepe-eenheid by FASfacts werk, waar hy hom sal beywer vir die betrokkenheid van alle kerke en geloofsorganisasasies. Hy het reeds sewe jaar as vrywilliger in die direksie gedien.

FASfacts beywer hom vir die bekamping van Fetale Alkohol­sindroom (FAS) in die gemeenskap. “FAS is ’n geweldige en groeiende epidemie in Suid-Afrika,” sê ds. Ungerer, “veral in groot dele van die Wes- en Noord-Kaap.

“Navorsing toon dat tot 20 000 kinders jaarliks met al die simptome van FAS gebore word. Die getal kan boonop aansienlik meer wees, aangesien daar grade van beskadiging is, afhangend hoeveel die moeder tydens swangerskap gedrink het.”

Hy sê FAS veroorsaak drie groot probleme in die gemeenskap. Opvoedkundig is kinders leergestremd weens permanente breinskade wat opgedoen word. Maatskaplik is dié kinders vir die res van hul lewens ’n las vir die staat, aangesien hulle afhanklik van mediese sorg, toesig en finansiële bystand is.

Wat die regstelsel betref, is ouers wat verantwoordelik is vir kinders wat met FAS gebore word, ’n “fabriek van kriminele”. “Dis dalk skerp gestel, maar feit is hierdie kinders kan nie uit hul foute leer nie as gevolg van breinskade wat tydens die swangerskap opgedoen is. Hulle sal dieselfde ernstige kriminele oortredings herhaaldelik beoefen.”

Tog, sê hy, is FAS volkome voorkombaar as die ma haar heeltemal van alkoholgebruik tydens swangerskap weerhou.

Hiervoor is FASfacts, met sy hoofkantoor in Worcester, reeds sedert 2002 besig met voorkomingsprogramme in skole, onder plaaswerkers, in gemeenskappe en sjebiens.

Daar is tans agt programfasiliteerders wat aktief betrokke is om mense in te lig oor die gevare van FAS en die FAS-syfer te probeer verlaag. Modules is spesiaal ontwikkel om verskillende groepe te onderrig, waarby leerders én volwassenes baat vind.

FASfacts werk in vennootskap met ’n groot verskeidenheid rolspelers, soos regeringsdepartemente, maatskappye en nie-regeringsorganisasies.

Ds. Ungerer sê hy sal met ander barmhartigheidswerk voortgaan, soos sy betrokkenheid by die Nuwe Begin Skuiling, sopkombuise, Educare-sentrums in Zweletemba, opleiding van vroue-entrepreneurs en die skep van gemeenskapstuine in samewerking met die departement van landbou.

Die Moedergemeente se kerkraad het ingestem om die pastorie aan hom te verhuur. Hy en sy vrou Mary, wat steeds by gemeentesake betrokke sal wees, sal dus in die huis aanbly.

Sy afskeidsboodskap sal Sondag 16 Augustus om 9:30 begin.

Gemeentes wat hom oor FASfacts wil skakel en optredes wil reël, kan hom by 083 320 4553 bel.

Gepubliseer deur Worcester Standard 13 Augustus 2009