|

Minister steun alkoholvrye swangerskap
VROUE wat moontlik swanger kan raak, moet oortuig word om nie alkohol te drink nie. Mnr. Cobus Dowry, Wes-Kaapse minister van landbou, het hierdie belangrike boodskap van FASfacts, wat hulle beywer vir die voorkoming van Fetale Alkohol Sindroom, se veldtog beklemtoon tydens hul erkenningseremonie en algemene jaarvergadering verlede week waar hy die gasspreker was.
Dowry het terselfdertyd mans aangemoedig om hul vroue en metgeselle te ondersteun deur self nie alkohol tydens die vroue se swangerskappe te gebruik nie.
Dowry het FASfacts bedank dat hulle die voorkoming van Fetale Alkohol Sindroom as ’n roeping sien en daardeur die departement van landbou help bou aan ’n gesonde landbou-tuiste vir almal in die Wes-Kaap.
Hy het voorts daarop gewys dat FASfacts deel in die departement van landbou en ander rolspelers se siening dat “ons kinders altyd vir ons spesiaal moet wees en dat hulle altyd ons spesiale aandag moet kry”.
Dowry het gesê hy sien FASfacts as die “tipe vennoot wat daagliks voortgaan om met hul programme by skole, op plase en dorpe en elke moontlike geleentheid mense bewus te maak van FAS omdat hulle saam met die departement van landbou en ander rolspelers die lewensomstandighede van alle mense wil verbeter en omdat hulle in die mense-materiaal van die Wes-Kaap glo”. Dit is om dié rede dat die departement van landbou in die Wes-Kaap hom verbind om FASfacts by te staan deur vir die volgende vier jaar elke jaar ’n bedrag geld beskikbaar te stel om die FAS-veldtog voort te sit.
Verteenwoordigers van donateurs en rolspelers in die FAS-voorkomingsveldtog wat die geleentheid bygewoon het, het elk ’n geraamde plakkaat en T-hemp ontvang met die woorde “Ons kinders is spesiaal” uit erkentlikheid vir hul ondersteuning. Onder hulle was mnr. Clarence Johnson, uitvoerende burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit.
Gepubliseer deur Worcester Standard |
|