Homepage
About Ud
About Ud
Photo Gallery
fasfacts jingle
FASfacts Brochure
Brain Damage
Downloads
News and Articles
FAS Information
FAS Facts
FAS Links
Afrikaans
Donations
Contact Us
Our donors
books
dvd
Copyright
feet

news

FAS landwyd onder oë

Christine smit

DIE klok het gelui vir fetale alkohol-sindroom (FAS).

Helen ZilleDie geleentheid was ’n byeenkoms by die Groenheuwel Primêre Skool naby die Paarl waar Internasionale Fetale Alkoholsindroom-dag gehou is en waar die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, ’n klok gelui het ter bewusmaking van dié sindroom.

Die doel van dié dag, wat tradisioneel elke jaar om nege minute na nege op die negende dag van die negende maand gehou word, is om die boodskap aan swanger vroue oor te dra om nie alkohol gedurende swangerskap te drink nie.

Voorts het die dag dit ten doel om die probleme wat as gevolg van FAS ontstaan onder die vergrootglas te plaas, om jongmense, wat die leiers van môre is, bekend te stel aan programme om FAS te bekamp en om deel te hê aan werkbare oplossings vir die probleem.

Die bewusmakingsdag gister is ook deur dr. Ivan Meyer van die departement van maatskaplike ontwikkeling, die Paarl se burgemeester, me. Charmaine Manuel, en mnr. Francois Grobbelaar, hoof uitvoerende beampte van FASfacts, bygewoon.

Behalwe leerders wat van hul ondervinding met FAS vertel het en die oorhandiging van ’n Internasionale FAS-dag-plakkaat aan Zille en Manuel, het hulle (Zille en Manuel) ’n onderneming ter ondersteuning van FASfacts onderteken. FASfacts, ’n nie-regeringsorganisasie, is in 2002 deur Grobbelaar gestig om bewusmaking van FAS en die impak daarvan op die gemeenskap te bevorder.

Hoewel FAS voorkombaar is deur nie alkohol tydens swangerskap te drink nie, word 25 000 babas jaarliks in Suid-Afrika, wat die hoogste voorkoms van FAS ter wêreld het, gebore. FAS is die grootste oorsaak van vertraagde groei, afwykende gedrag en verstandelike gestremdheid in meeste nywerheidslande en kom onder alle rasse en sosio-ekonomiese groepe voor. Daar is nie genesing vir FAS nie.

Bewusmaking alleen is nie genoeg om FAS te beperk nie, sê Grobbelaar. “Drastiese stappe is nodig om FAS te bekamp en uit te wis.” Hy sê die meeste voorvalle van FAS kom in die landelike areas van die Wes- en Noord-Kaap voor. De Aar het tans die meeste aangemelde gevalle - 122 babas uit elke 1 000 lewende geboortes.

Grobbelaar sê ’n intensiewe navorsingsprojek oor FAS is tans in die Robertson-, Montagu-, Bonnievale- en Ashton-area aan die gang.

Hy meen FASfacts se bewusmakingsprogramme is suksesvol omdat dit onder meer vroue bemagtig om lewensbelangrike besluite te neem. Met volgehou programme kan FAS een van die grootste gesondheidsprobleme word om permanent uitgewis te word, sê hy.

Die FASfacts-veldtog 2009 word deur SA Brouerye geborg ter ondersteuning van kinders wat met FAS gebore is.

Artikel geplaas deur Worcester Standard