
Drinkery tydens swangerskap erg in Kaap
LIESL PEYPER
28/07/2009 11:32:30 PM - (SA)
Kaapstad. - Fetale alkoholsindroom (FAS) is by meer as 11% van die leerders op die Wes-Kaapse platteland gediagnoseer, blyk uit navorsing wat die afgelope tien jaar gedoen is.
Die gesondheidsdepartement het in samewerking met die Stigting vir Alkoholverwante Navorsing studies in die Wes-Kaap, Gauteng en Noord-Kaap gedoen om die voorkoms van dié sindroom onder skoolkinders vas te stel.
Studies in 2007 en 2008 wys die voorkoms van FAS in die Wes-Kaap is baie hoog.
Die DA se skaduminister van gesondheid, mnr. Mike Waters, het onlangs gevra dat dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, uitsluitsel gee oor die voorkoms van FAS in Suid-Afrika en hy wou weet of daar enige bewusmakingsprogramme hieroor bestaan.
Volgens Motsoaledi is daar tans nie betroubare syfers oor hoeveel kinders in Suid-Afrika met FAS gebore word nie, hoofsaaklik vanweë die komplekse proses waarvolgens diagnoses gedoen word.
Bestaande syfers wys FAS is by 2,4% van alle skoolkinders in stedelike gebiede in die Wes-Kaap gediagnoseer, terwyl 11,6% van plattelandse skoolkinders dit het.
Die voorkoms was ewe kommerwekkend in die Noord-Kaap, waar FAS by 8,4% van die skoolkinders gediagnoseer is. Die hoogste voorkoms was in die Noord-Kaapse dorp De Aar, waar 10,3% van die skoolkinders FAS het.
Gauteng het met 1,8% die laagste voorkoms van FAS.
Volgens Motsoaledi dui dié syfers daarop dat baie swanger vroue onbewus is van die uiters nadelige uitwerking wat alkoholgebruik op hul ongebore babas het. Dit toon die noodsaaklikheid van bewusmakingsprogramme. |