|

Dink ’n bietjie oor dié CD
“DINK ’n BIETJIE was die logiese naam vir my eerste CD, aangesien dit is wat ek met my musiek wil vermag!” meen Simon Witbooi, ’n 25-jarige jongman wat gereed is om die musiekbedryf te stormloop met sy positiewe rap.
Gedurende Desember 2006 het hy en FASFacts saamgespan om dié CD vry te stel. “Al die liedjies op my CD het ek self geskryf en is geïnsipireer deur dinge wat ek in my omgewing sien en my eie ondervindings,” het Simon gesê.
Nie net is hy een van die dorp se beste rappers nie, maar hy doen baie gemeeskapswerk en is hy welbekend as omroeper by die plaaslike radiostasie.
“Ek het ’n hart vir ons mense en daarom het ek ook hierdie CD aan die gemeenskap van Worcester gewy. Slegs een van die liedjies op my CD is Engels, die res is almal hoofsaaklik Afrikaans of sal ek liewer sê ’n taal wat vir ons mense beter verstaanbaar is. Baie van ons mense verstaan nie suiwer Afrikaans of Engels nie, ons praat mos maar so ’n mengelmoes Afrikaans. Dit is juis omdat ek wou hê dat die musiek verstaanbaar moet wees en tot die mense, veral jongmense, se harte moet spreek dat ek in hierdie taal geskryf het.”
Hy behoort ook aan ’n groep in Worcester met die naam Flavour wat daarop fokus om positiewe rap terug te bring en Worcester ’n negatiewe rap-vrye dorp te maak. “Baie keer wil mense nie na rap luister nie as gevolg van die negatiewe boodskappe wat die liedjies stuur, soos byvoorbeeld rondom seks, vroue en geld.
“Ons wil hê dat almal moet weet dat die rappers in Worcester dit nie gaan toelaat nie en dat dit ook ’n vorm van kuns is wat ’n positiewe impak op ons gemeenskap kan hê.” Hy dink ook dat die dansgroepe in Worcester ’n groot bydrae lewer tot die feit dat baie mense dink dat Hip Hop negatief is. “As jy luister na die woorde van die musiek waarop hulle dans, sal jy hoor dat dit ’n negatiewe boodskap na buite stuur. Afrika in geheel is besig om weer vir rap ’n positiewe naam te gee.”
Hy is ook van mening dat die rappers in die Wes-Kaap baie potensiaal het, maar nie altyd die finansies het om hul talent uit te leef nie. “Die rappers in Johannesburg het die tegniese vaardighede en finansies, maar ons het die hart!
“Daarom is dit baie belangrik dat die rappers hulself ook moet bemagtig met die nodige tegniese opleiding.”
Hy fokus ook daarop om ander jongmense wat talent het te motiveer en so veel moontlik blootstelling te gee.
Gedurende 2005 is hy na Amerika en Londen om sy intensiewe studie in teologie te gaan voltooi by die Bethel Bible College in New York. “Ek het gedink dat ek dalk ’n paar dinge by hulle gaan leer, maar ek dink dat hulle ’n hele paar dinge by ons Afrikaners kan leer!” meen Simon.
Hy is onlangs getroud en is boonop die pa van ’n sewe maande oue dogter en kry steeds tyd vir die twee CD’s en boeke wat hy besig is om te skryf.
“Een van die boeke wat ek besig is om te skryf se naam gaan The Path, Process and production of the Cross wees en die twee CD’s waaraan ek werk, Space for thought en Postman, beoog ek om einde van die jaar vry te stel.
Met sy baie talente is hierdie jongman werklik ’n aanwins vir Worcester.
“Maak nie saak hoe ver ek eendag vorder met my musiek nie, ek sal Worcester nooit vergeet nie!”
Gepubliseer deur Worcester Standard |
|