info@FASfacts.org.zaHead Office: +27 23 342 7000

Article View

Categories

View Detail

Minder vroue drink tydens swangerskap

Sowat 111 swanger vroue is by die huidige mentorprojek betrokke 


Matthew Sheldon – Worcester Standard Verslaggewer

In ‘n loodsprojek van FASfacts wat verlede jaar in Oktober in Roodewal afgeskop het, het 25 (70%) van die 35 swanger vroue wat aan die mentorprojek deelgeneem het tydens hul swangerskap opgehou om alkohol te gebruik.

Die ander tien het minder alkohol gebruik.

In die vorige jaar se mentorprojek het 13 (43%) van die 30 swanger vroue opgehou om alkohol te gebruik.

Dit beteken dat daar vanjaar ‘n toename van 27% in die getal swanger vroue is wat die gebruik van alkohol gestaak het.

Francois Grobbelaar, uitvoerende hoof van FASfacts, het aan die Standard verduidelik dat die mentorprojek groot welslae in Worcester behaal. “Ek is só bly dat ‘n jaar- tot-jaarvordering met die projek gesien kan word. ‘n Bekommernis vir my is hoe jonk die swanger vroue of meisies is wat tydens hul swangerskap drink,” het hy gesê.

Die doel van die projek is om die voorkoms van fetale alkoholsindroom in die gemeenskap te verminder.

Volgens Grobbelaar verskaf die mentors inligting aan swanger vroue, maar hulle moet ook sorg dat die vroue dit in die praktyk toepas.

FASfacts het onlangs ‘n erkenningseremonie vir die mentors by die Verenigde Gereformeerde Kerk (VGK) gehou. Elkeen het ‘n sertifikaat ontvang en swanger vroue wat aan die program deelgeneem het, het geskenkpakkies ontvang.

Volgens een van die mentors, Beulah Goliath (33), is dit die omstandighede waarin mense verkeer wat hulle na alkohol dryf. “Baie van die swanger vroue wat drink is werkloos, het geen voedsel in die huis nie of hul ouers is nie betrokke in hul lewens nie,” het sy gesê.

Sy is baie trots op die vroue wat deelgeneem het aan die mentorprojek.

Volgens Grobbelaar is daar ook baie swanger vroue wat onbewus daarvan is dat as hulle tydens hul swangerskap drink, die baba breinskade kan opdoen.

“Ek glo daar moet in elke gemeenskap ‘n mentorprojek vir swanger vroue met ‘n alkoholprobleem wees. Swanger vroue wat tydens hul swangerskap drink, bly ‘n groot uitdaging in die Worcester-gebied.”

Mechelle Liebenberg, waarnemende operasionele bestuurder, sê FASfacts het onlangs sy nuutste mentorprojek in Roodewal en Avianpark bekend gestel met 22 mentors in Roodewal en 14 in Avianpark.

Elke mentor moet drie swanger vroue ondersteun en help om alkohol tydens hul swangerskap uit te skakel en ook terwyl hulle hul babas borsvoed.

Sowat 111 swanger vroue is by die huidige mentorprojek betrokke.


‘n Groep van 17 lede van FASfacts het 34 swanger vroue van Roodewal gehelp om alkohol geheel en al tydens hul swangerskap uit te skakel. Hier (links) is Sonja Morkel (Distell), Beulah Goliath (mentor) en Francois Grobbelaar (uitvoerende hoof).
FOTO: MATTHEW SHELDON

 

Source: www.worcesterstandard.com

  • "A new baby is like the beginning of all things - wonder, hope, a dream of possibilities.” ―Eda J. Le Shan

  • “Drinking during pregnancy is linked with disaster – personal disaster for the ‘bright-eyed ones,’ disaster for their families and their hope for their young, and disaster for . . . society as we struggle to pay the huge price of this destruction.” - Prof. Ann Streissguth, Ph.D.

  • "If you're pregnant, don't drink. If you drink, don't get pregnant" - Eva Carner

  • "Every day is FASD Awareness day" - Teresa Kellerman (www.babybornfree.com)